‘’The smelly issue’’: Toilet refusal, stool retention and constipation and encopresis in pre-schoolers. This article contains user-friendly information for parents and teachers. It was presented in Afrikaans to accommodate Afrikaans speaking parents.
Normale ontwikkeling van toilet onderrig
Wanneer dit tyd is vir toilet onderrig, is die ideaal dat ouers waarneem wanneer die kind belangstelling toon om self die potjie te gebruik, ‘n indikasie gee dat die doek hulle pla, of wys of sê dat hulle die potjie of toilet wil gebruik. Soms is die besluit om te begin deel van die skool se kurrikulum, en begin al die maatjies in die ‘pottie training klassie’ gelyk om in die roetiene te kom. Hierdie stadium korreleer meestal met die normale fase van outonomie soos wat Erikson in sy ontwikkelings fases beskryf.
Kleuters in die ouderdom 1-3 jaar is volgens Erikson in die fase van outonomie, waarn hulle meer beheer oor hul lyfies en die omgewing wil behaal. Indien hulle suksesvol onafhanklik raak, integreer die kind trots en sukses en sal ook dikwels sy gesin wil wys wanneer hy suksesvol in sy potjie ontlas het. Indien hy nie daarin slaag nie, word skaamte dikwels geintegreer. Wanneer potjie onafhanklikheid skeefloop, om watter rede ookal, is een van die probleme dat die kleuter skaam en ook angstig begin raak ten opsigte van toilet onafhanklikheid.
Druk deur die omgewing
Wanneer die kindjie nie daarin slaag om toilet onafhanklik te word nie, is daar soms druk vanaf ouers, skool, ouma of oupa en dit maak die kind se angs nog meer. Die kind wat meer geneig is tot angstigheid en ook sensitief is vir emosies van sy gesin of skool raak selfbewus en kan begin met terughouding (stool retention).
Faktore wat potjie onafhanklikheid kan saboteur
- Soms is die kind emosioneel en fisies nie reg vir die proses nie
- Soms het die kind nog langer die sensories vertroostende gevoel van die doek om sy boudjies nodig
- Onderbroke potjie onderrig, b.v. deur siekte, hospitalisasie, vakansie
- ‘n Behoefte om in beheer te bly van iets omdat daar veranderinge soos ‘n nuwe baba in die huis, trauma of skool skuif in sy wêreld gebeur
- Hardlywigheid as gevolg van terughouding
- Die reuk sensitiewe kind wat as gevolg van spesifieke sensoriese sensitiwiteit nie die reuk van sy eie stoelgang of die reuke in vreemde badkamers kan verdra nie.
- Ouditief sensitiewe kinders is soms bang vir die geluid van die ‘flush’ van die toilet, en selfs bang dat die water op hul kan spat wanneer hulle druk. ‘n Bolletjie toilet papier binne die toilet kan enige vrees vir ‘opspat’ keer, en musiek of selfs ‘white noise’ in die badkamer kan help vir die geraas wanneer die toilet spoel.
- Vrees kan aangewakker word deur stories van maatjies, bangmaak stories van ouer kinders of TV stories. ‘n Storie soos ‘Flushed away’ het vrees om ingesluk en weggespoel te word deur die toilet by baie kleuters gesneller.
Stoelgang terughouding (Stool retention)
Dikwels is hardlywigheid by 3-6 jaariges gesneller deur ‘n insident van pynlike stoelgang, b.v. na medikasie, siekte, operasie ens. Die brein assosieer dan die druk op die potjie of toilet met pyn en die kind kan ‘n angstige assosiasie met gebruik van die toilet ontwikkel en sy stoelgang terughou.
Terughouding kan daartoe lei dat stoelgang in die onderste deel van die kolon gedeponeer word. Aangesien die liggaam water uit die stoelgang neem, lei dit tot droë harde stoelgang, en pynlike passering wat fissure (skeurtjies) tot gevolg kan he. Die liggaam onthou die pyn geassosieer met ‘druk’ as die kolon vol is, wil nie die ‘druk aksie’ uitvoer nie en hou meer terug en ‘n negatiewe siklus onstaan. Ouers sal soms die kindjie agter ‘n gordyn, in ‘n hoekie of agter ‘n deur vind wat ‘wegkruip’ en trippel soos die kind konsentreer om die stoelgang terug te hou en te beheer.
Enkoprese
Soms ontstaan ‘n probleem van enkoprese by die ouer kind wat reeds potjie onafhanklik was en dan terugval, of nooit werklik onafhanklik was nie. Sagte stoelgang ‘loop deur’ en lyk soos ‘nie goed afgevee nie’ maar die impaksie bly in die kolon, is droog en hard en veroorsaak dikwels maagpyn en baie ongemak. Wanneer dit gepasseer word is dit baie pynlik. Dit raak ‘n bose kringloop waarin die kind ongemaklik en geirriteerd is, die ouers angstig raak en die kind net meer terughou. Wanneer hierdie probleem chronies raak, steek die kind dikwels onderklere weg, ontken dat hy ‘n vuil broekie het of ruik homself nie.
Spel terapie asook mediese behandeling en dieët aanpassing saam is die wen-kombinasie. Hierdie is ‘n probleem wat samewerking van ouers en die skool vereis, asook stiptelike uitvoering van die voorskrifte van die mediese praktisyn sodat dit nie ‘n chroniese toestand word nie.
Angs en onsekerheid speel ‘n groot rol in die stoelgang terughouding en sensitiewe kinders ly meer dikwels aan hierdie problem.
Behandelings plan
Wanneer hierdie probleem chronies raak, word konsultasie met ‘n pediatriese gastro-enteroloog aanbeveel
- Die kolon moet skoongemaak word deur toepaslike medikasie, verkieslik oor ‘n naweek ten einde impaksie op te klaar.
- Hou dan die kolon inhoud sag vir minstens 3 maande; gee iets soos Pegicol op ‘n daaglikse basis, of soos deur ‘n medikus voorgestel.
- Gebruik dan die kind se normale epigastriese refleks wat gewoonlik ongeveer 20 minute na ‘n maaltyd intree. Laat kind vir 2 tot 3 minute op die toilet sit na elke maaltyd. Verseker die kind deurentyd dat dit nie weer sal seer wees nie want die ‘’poo’’ is nou sag en wil graag uitkom. Gebruik gerus ‘n pynstillende salfie om seker te maak dat daar minimum anale ongemak sal wees. Soms is ‘n setpil aanvanklik nodig om die proses te sneller. Maak hierdie deel van die normale daaglikse roetiene. Die doek kan aangehou word vir die druk op die toilet, en later losgemaak word. Laat die kind ‘n spesiale toilet kussing agter die ruggie sit ten einde die optimale ‘druk posisie’ te kan hou, asook ‘n stoeltjie waarop hul voetjies kan rus.
- Wanneer die kind gereed is, kan die doek in die toilet sitplek vasgeknyp word sodat die kind kan sien die doeke is nog daar. Wanneer hierdie stadium bereik is, kan doeke getel word en ‘n ‘aftel proses’ begin met ‘n viering as die laaste doek gebruik word.
- Moedig die proses aan met ‘n spesiale toilet boekie/speelding/I pad speletjie wat net in die toilet gespeel of gelees mag word.
- Indien die kind nie gereed is hiervoor nie, maak steeds die badkamer die plek vir ‘druk’. Wannneer hy druk, moet dit in die badkamer gedoen word en verduidelik aan die kind voor sy proses begin: van nou af is die badkamer die ‘poefie’ plek. En nie meer agter die gordyn nie en alle doeke word in die badkamer gebêre en geruil. Indien daar ‘n gunsteling ‘druk plek’ in die huis was, plak voetspore/glinster sterre op die grond saam met die kind tot in die badkamer om aan te dui: Hier is die plek!
Moets
- Gee die kind baie ekstra aandag en liefde, bou sy selfbeeld.
- Konfronteer die probleem sonder enige woede of ongeduld: b.v.: “Ek ruik daar is ‘n vuil broekie. Gaan toilet toe, kry die ‘wipes’, maak skoon, kyk of jy jou broekie kan uitspoel, en roep as ek kan help.”
Woede, straf en raas laat die kind net meer angstig voel.
- Wees deel van sy span: Mamma/Pappa en jy gaan die poef-probleem (ek noem dit Skelm-poef) wen. Ons moet saamwerk, want hy is skelm en ons sal moet planne maak.
- Eksternaliseer die probleem. Nie “Jy is die problem” nie, maar “Die probleem wil jou wen”.
- In terapie word die kind gehelp om planne te maak om ou ‘’skelmpoef’’ te wen. Baie aandag word gegee aan emosionele regulering en bou van positiewe selfbeeld
Moenies
- ‘Do not name, shame or blame’
- Straf, ongeduld, kwaai wees maak die probleem erger en sal dit nie laat weggaan nie.
- Moet nie druk uitoefen nie, en kry die skool se samewerking in die verband.
Met geduld, goeie mediese en emosionele ondersteuning kan hierdie probleem gewen word en die kind die suksesfaktor smaak: Groot fees vierings wanneer hy suksesvol die eerste keer die toilet suksesvol gebruik!
Kontak my gerus vir enige onduidelikheid.
Carien Muller (kliek hier vir meer inligting)
MSD (Play therapy) UP